Vrae wat almal vra

Voordat ek begin dink ek dat dit belangrik is om ‘n konsep omtrent die manier waarop God funksioneer, uit te lig.

Ek het in Sy Woord gaan soek na antwoorde op ‘n klomp vrae rondom dié “ struktuur”, en ek het iets geleer wat ek graag met julle wil deel. Wanneer God ‘n opdrag gee, skets Hy ‘n prentjie van hoe die eindproduk lyk van die opdrag wat Hy vir jou gee, maar Hy gee nie dadelik die metode van A-Z hoe om by die eindpunt uit te kom nie. Ons geloof, en afhanklikheid van Hom, word inderdaad getoets soos wat ons groei en bid, van die een punt na die volgende punt. Daar is dus vrae wat ek self nog op antwoorde voor wag.


Vraag 1.   Hoe kan jy so ‘n groot plek bou en onderhou?
Antwoord: Ek het op Loftus Versveld gesit toe die Cheetas ons ore aangesit het met die Currie-beker, en die spesifieke vraag was in my gedagtes gewees. Ons praat van ‘n tempel wat 200000 akkommodeer en ek dink ons was maar 60 000 op Loftus gewees! Dit is regtig ondenkbaar baie mense, en om hulle almal te akkommodeer sal fyn beplanning van alle logistieke hulpbronne verg!
Dat die tempel gebou kan word, twyfel ek nie aan nie: ons stuur dan al mense maan toe. Ons het net kundige mense nodig met die beplanning en uitleg van die sentrum. Indien u dalk ‘n siviele aanleg het of dalk met logistiek kan help, kliek asseblief hier...
 
Vraag 2.  Daar is nie genoeg mense (selfs in Johannesburg) om gereeld 200 000 sitplekke vol te maak nie. Hoe gaan jy die plek vul?
Antwoord: Die stelling klink dalk nou reg maar, ek dink dat die antwoord in geloof lê! As ons nie glo dat ‘n Christelike herlewing sal plaas vind nie sal dit net nooit gebeur nie! As mens dalk kyk na hoe die paaie oor paasnaweek lyk wanneer duisende Z.C.C.’s van so vêr as die Kaap af  optrek na Tzaneen toe, wil mense glo dat met herlewing ons as Christene ook soveel moeite sal insit vir ons verlosser en saligmaker Jesus Christus! 
 
Vraag 3. Hoe weet jy dat dit God is wat met jou gepraat het? 
Antwoord: Verwys Afdeling - Waar kom die idee vandaan?
 
Vraag 4. Wat gaan jy maak as jy halfpad kom en mense onttrek aan die finansiering?
Antwoord: Ek moet eerlik wees en sê dat dié moontlikheid nie in my gedagtes bestaan nie! Die tempel is iets wat God self daar wil sien, en wie sal dan in die pad van Sy plan staande bly?
 
Vraag 5. Ons weet nie eens hoeveel alles gaan kos nie... (grond, bou-planne, boukoste, onderhoud, personeel ens.)
Antwoord: Wanneer ‘n mens enige uitdaging aanpak is een van die eerste behoeftes om te bepaal verseker die koste. Omdat ek begin op my eie en sonder finansies, hoop ek om d.m.v. die webblad mense aan my kant te kry wat oor die nodige kundigheid beskik om hierdie tipe van berekenings, puntenerig te kan bepaal. Ek doen weer ‘n beroep dat indien u oor die nodige kundigheid beskik en bereid is om te help, kliek asseblief hier...
 
Vraag 6. Waar gaan die struktuur staan?
Antwoord: Ek moet bieg dat dit een van die vrae is wat God nog nie aan my geopenbaar het nie. Logistiek gewys sou ek wou hê dat dit in Pretoria iewers moet wees en verseker op ‘n berg, sodat dit van vêr af sigbaar sal wees. Ek het wel al ‘n profetiese woord ontvang dat die grond reeds deur God opsy gesit is en dat dit op die regte tyd net aan ons gegee sal word. Indien God dit op jou hart gedruk het en jy dalk die grond vir ons wil skenk, kliek asseblief hier...
 
Vraag 7. Hoe gaan die struktuur lyk?
 Antwoord: Nog ‘n vraag wat ek nie met sekerheid kan antwoord nie! Die beeld wat ek gesien het, het  gelyk na ‘n hedendaagse sport stadion, maar het meer gefokus op al die mense as die struktuur self. Ek het ‘n idee omtrent die uiterlike voorkoms en ek is seker dat sodra ek met ‘n paar argitekte kan sit om die idee oor te dra, ons ‘n goeie voorlegging omtrent die struktuur sal kan deurgee. Weereens indien u hier kan help kliek asseblief hier...
 
Vraag  8. Mense gaan jou nie glo nie, Dis net nog ‘n geldmaak slenter. Jy wil net die mense se geld steel. Daar is reeds te veel mense wat vinnig probeer geld maak uit die publiek.(op die internet en elders)
Antwoord: ‘n Baie geldige punt en moeilik om oortuigend te beantwoord, veral omdat niemand my ken nie en misdaad deesdae alledaags en aanvaarbaar geraak het. Wat ek wel kan sê is dat ek besig is om aansoek te doen dat 3 verskillende persone saam moet teken voordat enige fondse uit die rekening verwyder kan word. Sodra ek dit op skrif het, sal ek dit ook op die blad vertoon. Ek wil ook bekende boekhouers vra om die boeke te doen en te verseker dat inligting op gereelde basis beskikbaar is en ook op die blad gewys sal word. Sodra ek enigiets in die verband  beskikbaar het sal ek dit ook op die webblad sit. Ek beoog ook om welbekende kunstenaars en leiers te nader om d.m.v. hulle steun my kredietwaardigheid op te bou en te verseker dat hierdie nie nog ‘n slenter is nie!
 
Vraag 9. Mense sal eers wil sien of dit werk voordat hulle, hulleself sal verbind om geld te belê.
Antwoord:  Om versigtig te wees, veral in hierdie dae, is verseker wys. Kyk na die blad, sien wie raak betrokke, raak eers voor God stil en hoor of Hy wil hê dat jy moet betrokke raak en raak dan deel. Ek besef dat die konsep radikaal vreemd is vir baie en ja selfs vir my, maar ek hou by een ding en dit is dat God in beheer is en nie ek nie. Hy sal stuur wie Hy wil, op Sy tyd.
 
Vraag 10. Dit gaan moeilik wees om mense te kry om die webwerf oop te maak.
Antwoord: Soos wat ons Jesus se evangelie d.m.v. woorde direk aan mense oordra, net so glo ek dat die sukses van die J.A.K. Stigting lê in die oortuiging waarmee een Christen aan die volgende Christen die evangelie gaan verkondig op die rug van ‘n tempel wat gebou moet word! Wanneer iemand dan op die webblad sal ingaan sal hy/sy reeds weet wat daar staan, maar sal dié persoon hom net self van die feite gaan vergewis.
 
Vraag 11. Hoe gaan mense bydra?

Antwoord: Daar is vier moontlike maniere waarop mense deel kan word van Jesus as King stigting.

 1. Finansieel.
Ons poog om 1 000 000 Christene oor ‘n tydperk van 12 maande ‘n bedrag van R100.00 per maand te vra as bydrae vir die bou van die tempel. Die bedrag is bo-en-behalwe jou normale tiende wat jy getrou by jou eie kerk moet inbetaal. Die R100.00 is dus addisioneel bo jou normale tiende en vertrou ek regtig dat God mense se harte sal sag maak en hulle sal seën met die nodige finansies vir hierdie groot taak.

2. Mondelings.
Die hoof advertensie medium vir hierdie veldtog sal jou tong wees. Ons wil nie net hê dat jy op Jesus moet vertrou nie, ons wil ook hê dat jy begin gewoond raak daaraan om oor Hom te praat ook, en ander van Sy liefde te vertel. Hier skep ons vir jou ‘n medium om ook ‘n visser van mense te wees.                                                                                                                              Lees Matt 10: 32-33. “ Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is .”

So praat met jou man of vrou, jou pa en ma, jou kinders, jou broers en susters, die ou saam met wie jy gholf speel en die ou wat jou gholfsak dra, die tannie by die kleuterskool, die vrou by die haarsalon en die een by die tuisnywerheid, die bediende by die huis en die ou wat jou kar oppas by die winkelsentrum. Jesus het vir almal gesterf, so vertel dit vir almal!

3. Aanleg.
Die aanleg waarmee God jou geskape het, het die Jesus as Koning Stigting nodig om die tempel reg te laat funksioneer. Bv.

Argitekte – ons het konstruksie- en bou-planne nodig.
Sangers - ons wil Christelike konserte reël waar julle moet optree.
Sprekers – iemand moet voor 200 000 mense kan opstaan en met die Gees as leiding, die evangelie van Christus kan verkondig sodat 200 000 mense hulle sal bekeer en as vernude Christene sal terug gaan na hulle eie gemeentes en self daar van Jesus sal gaan getuig.
Die doel dus nogsteeds – herlewing.
Geestelike leiers – as 10% van 200 000 hulle harte vir Christus wil gee by ‘n byeenkoms, is daar 20 000 mense wat meer wil weet en leiding nodig het in hierdie uiters kritieke beginstadium van Christen wees. U kan dus sien dat ons leiers nodig het wat by verskille kan verby kyk en Jesus as almal se verlosser kan verkondig aan enigiemand. Ek dink spesifiek aan groepe soos bv. EE3, G12, LL, en enige ander instansie wat die uitbrei van Sy koningkryk op die hart dra.
Jeug bediening – sal dit nie wonderlik wees om elke Vrydag- en Saterdagaande vir ons jong mense ‘n Christelike konsert te kan reël, en hulle sodoende uit die strate uit te hou nie!
Gewone mense – ons soek mense wat omgee, wat wil help, wat ‘n verskil wil maak vir Jesus, wat medelye het, mense met geleerdheid en mense sonder geleerdheid, mense wat graag dinge wil doen sodat Jesus in hulle eie lewens vir ander mense sigbaar sal wees en ons soek mense wat graag vir God wil behaag en Hom wil eer en verheerlik!

4. Gebed

 
Vraag 12.  Wat wil Jesus as Koning stigting bereik?
Antwoord : Ek het met verskeie predikante gepraat en almal van hulle het een ding in gemeen gehad – “hulle soek herlewing!”. Uit 2000 gemeentelede is omtrent net 500 aktiewe Christene wat regtig Jesus se lewe probeer nastreef, dan volg daar ‘n groep wat luidkeels belei dat “ hulle saak reg is”, maar wie se lewenswyse en hul doen en late nie ‘n lewe van dankbaarhied reflekteer nie. Dan is daar ‘n groep wat net op papier deel van die kerk is. Elkeen van die leraars se wens was om met oortuiging seker te kon wees dat elkeen in sy gemeente nie net Jesus se saligheid sou ervaar nie, maar dat hulle dit ook sou uitleef en daardeur ook as getuies, of verteenwoordigers van Jesus sal lewe.

Ek het besef dat elkeen van ons getrou die pensioenpolis uitneem op ‘n leeftyd op aarde wat in ‘n oogwink verby is, maar dat min mense veel voorbereiding tref vir ‘n ewigheid wat ons gaan spandeer nadat ons dood is. Die ergste gedagte is dat wat ons ookal op aarde doen sal bepaal of ons verewig saam met God in die hemel gaan wees en of ons verewig sonder God in die hel sal wees. Jou ewige bestemming word deur jouself op aarde bepaal en sodra jy dood gaan kan jy niks by jou oordeelsdag bysit of wegvat nie. Die keuse bly by jouself: kies Jesus as jou persoonlike verlosser en lewe of gaan deur jou lewe sonder Jesus en sterf.

Wat wil ons bereik? Ek wil getrou wees aan wat God se opdrag aan my was en daarna wil ek gaan stil staan om te kyk hoedat God self al ons gebede gaan verhoor. Hy sal self Christus in ons laat herleef, want Hy wil nie een van ons sien verlore gaan nie. Sy Seun het alreeds gesterf, en daardeur die volprys betaal vir ons sonde.                                                             

Nog Vrae...

Is jou geld veilig ?

Sodra ek skriftelik van die bank en die boekhouers verneem het sal dié afdeling homself verduidelik.

 

Hoe kan jy help?

  1. Lees die webblad, oortuig jouself van sy kredietwaardigheid deur dit in gebed met God te bevestig en verbind jou dan tot R100.00/maand oor ‘n tydperk van 12 maande.
  2. Gebruik jou tong en adverteer die blad by soveel mense as wat jy kan. Raak gewoond daaraan om Jesus met jou mond te verkondig.
  3. Kliek hier om te Registreer, indien jy bereid is om d.m.v. jou aanleg ons te help.
  4. Bid sonder ophou vir ons dat God Sy hand van beskerming oor die projek en almal wat betrokke is sal hou, en dat Sy wil deurlopend sal geskied!