Die getuienis van ‘n sondaar wat deur Sy liefde gered is.
Ek wil graag ‘n kort beskrywing gee van my lewe tot dusver, en vertel van ‘n paar kere wat ek duidelik die stem van die Here gehoor het.
Ek is gebore in Phalaborwa en het grootgeword in ‘n gesin wat dit nooit baie breed gehad het nie, maar waar ons nooit honger gaan slaap het nie en die liefde altyd opgemaak het vir wat dalk kort was. Ek het in ‘n gereformeerde kerk grootgeword en ons was gereelde kerkgangers.Ek het, vandat ek kan onthou, ‘n heilige bewondering vir God se natuur en was ek gelukkig nog altyd bevoorreg om baie tyd in die natuur te kon spandeer.
Op sestienjarige ouderdom nooi ‘n vriend my om ‘n Sondagaand saam met hom na sy kerk toe te gaan.Ek kan regtig nie onthou in watter kerk dit was nie, maar toe die leraar instap en van die kansel af skree of ons vry voel het ek geweet dat hier fout was.Nadat almal luidkeels geantwoord het “JA”! en sy antwoord was, “ Nou staan dan op jou stoel en vlieg soos ‘n arend” en terwyl die hele gemeente besig was om op hulle stoele te klim en sood arende te vlieg, het ek besef dat ek nie in ‘n gereformeerde kerk was nie! My vriend het my bo van sy stoel af aan die kraag beet gekry toe ek oppad uitwas, en ek het hom duidelik laat vertsaan dat ek nie bereid is om my aan so ‘n sirkus skuldig te maak nie! Dit het hom mooipraat gekos om vir my weer in die kerk te kry.Eers binne sou ek sien dat dit nog nie die einde is nie. Die leraar is besig om te preek terwyl die hele gemeente saampraat! Dit is so ‘n babelse verwarring met elkeen wat besig is om iets te sê dat ek nie myself kan hoor dink nie, wat nog te sê van wat die leraar besig is om te preek. “Luister net na die Pastoor”, het my vriend hier langs my gesê, wat seker my ongemak kon aanvoel.
Skielik daal daar toe ‘n kalmte oor my, en ek raak bewus van hierdie stem wat net met my praat.Bely jy dat jy ‘n sondaar is? Bely jy dat jy nie uit jou eie of deur enige werke van jou self gered kan word nie?Bely jy dat JESUS die enig gebore seun van GOD is? Bely jy dat Jesus vir jou sonde aan die kruis gesterf het, dat Hy opgestaan het uit die dood en dat Hy nou die ewige lewe verniet gee aan die wat in Hom glo? Die vrae het my getref op ‘n manier wat ek dit nog nooit van tevore gehoor het nie, en ek het skielik besef dat ek vir Jesus wil kies, maar dit nog nooit gedoen het nie!
Ek het daar opgestaan en voor ‘n klomp mense bely dat ek vir Jesus gekies het en dat ek wou hê dat Hy my lewe oorneem en lei! Ek het eers nadat God die derde keer met my gepraat het besef dat hierdie die eerts keer was dat ek God se stem gehoor het.
Vandag besef ek dat ek met die regte intensie in die kerk vir Jesus gekies het en dat ‘n gebrek aan kennis die volgende 15jaar van my lewe sou steel. Ek het daardie aand uit die kerk uit gestap met ‘n nuwe hart, reguit in my ou lewe in om erger as ooit te sondig. Drank, onsedelikheid, dwelms, noem ‘n sonde en dit was deel van my lewe.
Ek en my vrou ontmoet mekaar in 1994, by ‘n partytjie, eintlik net een groot dronkspul. Hier begin 9 jaar van eers saambly, toe moes trou, verslawing, rehabilitasiesentrums, selfmoordpogings, dominees, dokters, sielkundiges en psigiaters, maar niks wil werk nie!
Een Maandagoggend in 1998 stop my vrou ( toe was ons nog nie getroud nie ) by my werk. Ek was besig om my bedankingsbrief te skryf. Ons het finaal besluit dat dinge tussen ons nie sal werk nie, maar dat ons vreedsaam uitmekaar sou gaan. Ons het juis dié Saterdag haar afskeid gehou by die klub. Sy het aansoek gedoen om te gaan oupair in Engeland en sou die Woensdag vlieg. Volgens ons ooreenkoms laai ek haar by die lughawe af om haar te sien opstyg en dat ons na ‘n jaar sou besluit of ons vir mekaar bedoel was of nie. Ek het ‘n stuk besproeiingsgrond gekry in Botswana en gaan nou doen wat ek nog altyd wou – ek gaan boer.
Na vier jaar van saambly weet mens mos as daar iets fout is by jou metgesel en toe ek haar gesig sien weet ek dadelik dat daar êrens groot fout is. Sy is ‘n paar weke swanger, breek die nuus deur die stilte en in my hart in.(Ek wou nog altyd ‘n pa gewees het, maar het gedink dat dit anders sou gebeur het!) Ek hoef egter nie bekommerd te wees nie, gaan sy verder, dit is ‘n buisswangerskap wat dadelik d.m.v. ‘n operasie verwyder sou moet word. In een oogwink val my hele lewe uitmekaar, en net toe ek wil moedeloos word, hoor ek daardie stem sê: “ Sy sal gesond wees”. Dadelik daal daar ‘n volkome rustigheid oor my neer. Nadat ons na nog twee plaaslike dokters toe is vir tweede menings, teken ek ‘n brief wat die dokter vrywaar van enige vervolging omdat ek teen sy spesifieke waarskuwing in met my vrou na die volgende dorp toe ry vir nog ‘n mening – volgens hom sou die rit genoeg wees om die buis te laat bars en dan sou my vrou inwendig doodbloei. Ek is op hierdie stadium so ver van God verwyder dat ek nie eens dink aan bid nie. Die einde van die storie is ‘n pragtige klein dogtertjie, wat nou al 6jaar oud is, en elke keer as haar pa na haar kyk besef hy dat God ‘n groot plan vir haar lewe het en ek sidder as ek dink aan hoe amper satan haar kom steel het. Dit was die tweede keer dat ek Sy stem gehoor het, maar helaas nie herken het nie!
‘n Paar maande later sit ek een Sondagaand in ‘n interkerklike diens by my eie kerk. Ek was so lanklaas in die kerk dat ek en my vrou nogal daaroor gepraat het oppad kerk toe. In die middel van die diens praat ‘n stem so hard met my dat ek rondkyk of iemand anders dit ook gehoor het. Ek sit nog ‘n rukkie in die hoop dat ek sou besef dat ek my verbeel het. Die volgende oomblik hoor ek weer die stem en ek herken dit as dieselfde stem wat vir my die aand in die kerk gevra het of ek in Jesus glo, en later vir my gesê het om vir my ongebore dogtertjie se lewe te baklei! Die Here sê toe vir my om optestaan en vir die mense te sê dat hulle nie vir mekaar lief is nie, en dat hulle moet verander omdat die einde naby is. ‘n Mens word klein wanneer jy weet dat God met jou praat, jy kry nie asem gehaal nie, trane loop uit jou oë uit en jy weet nie hoekom of hoe om dit te stop nie! Ek het weer die stem gehoor en dié keer was dit meer ernstig en het gesê “ Staan op, of verloën My”. Jy weet sonder twyfel dat God jou gestuur het wanneer jy skielik opstaan in ‘n stampvol gereformeerde kerk, die dominee stil maak en vir almal in die kerk sê dat God vir hulle ‘n boodskap gestuur het, en dat jy dit vir hulle wil gee. Daar is ‘n daadwerklike besef van Hoër Gesag waarmee jy opstaan en die leiers van die kerk en gemeenskap probeer aanspreek, wanneer God die boodskap stuur en jy die boodskapper is.
Ek kon ongelukkig nie die boodskap gee nie, maar ek het my vertroosting daarin gevind dat ek opgestaan het en getrou was aan my opdrag in soverre dit moontlik was.
Na dié voorval in die kerk was dit asof dinge net nog verder verval het. Ek word aangeval op elke denkbare manier en hoe meer die aanvalle, hou minder kan ek dit teenstaan, totdat enigiets later weer aanvaarbaar was in my sondige lewe.
Op 29-jarige ouderdom staan ek eendag in die begraafplaas met ses bierre onder die arm en ‘n sigaret in die mond, terwyl ek so oor die grafte staan en kyk en wonder of al die mense ook so nutteloos gevoel het soos ek voordat hulle gegaan het. Ek het reeds ‘n skeibrief ontvang, die verhoordatum is in Januarie en dit is nou Oktober. My vrou en kinders het weg getrek en bly al vir ses maande in ‘n ander dorp, en my lewe voel soos een groot mislukking. Ek het die laaste leëblik agter op die bakkie geslinger en net so tussen die grafte in gestap. Op ‘n stadium het ek op my knieë neergeslaan en terwyl ek deurmekaar bid en huil, voor die Here bely dat ek misluk het en dat ek nie verder kon nie.Ek het vir God gevra oor my huwelik, en of Hy my sou vergewe as ek oor drie maande gaan skei.
Ek kyk toe op en sien reg voor my die graf van ‘n egpaar wat langs mekaar begrawe lê. Hulle is op dieselfde dag dood, ‘n motor ongeluk het ek aangeneem. Wat besonders was, was dat hulle gesigte op diegrafte gegraveer was sodat jy presies kon sien hoe hulle gelyk het. My oog gaan toe langs die grafsteen af na die teksvers onderaan die grafsteen, tussen die twee gesigte: “ Wat God saamgevoeg het mag geen mens skei nie”! Ek het nie my vrou gekies nie, God het haar vir my gegee! Die dag wanneer jy dit in jou huwelik besef, sal jy sien hoedat daardie klein jakkalsies verdwyn wat altyd die bakleiery veroorsaak in jou huwelik.
Tyd het verby gegaan en ek kon aanvoel dat my lewe , soos wat ek dit geken het, besig was om tot ‘n einde te loop. Hoe dit sou gebeur, het ek net nie geweet nie.
Een aand bel die baas my by die werk en vra dat ek na werk na sy huis toe moes kom sodat ons ‘n bietjie beplanning vir die volgende jaar kon doen en dan kon ons sommer ‘n paar drankies geniet terwyl ek daar was. Ek het sonder enige kwalifikasie by die maatskappy begin as magasynmeester en nou, 10jaar later is ek die bestuurder van ‘n klein maar baie dinamiese onderneming. My beroep was vir my uiters vervullend en ek het gehou van die mense saam met wie ek gewerk het. Ek dink die grootste plus punt was egter die feit dat ek ‘n goeie salaris verdien het en omdat ek dit nie baie breed gehad het toe ek jonger was nie, was dit vir my nogals belangrik.
Driekwart deur die eerste drankie gebeur daar toe ‘n ding wat my hele lewe verander – weer “daardie” stem! Ek kyk my baas in die oë terwyl hy voortgaan om te beplan vir dir jaar wat voorlê, sonder dat ek ‘n woord hoor wat hy sê. Daar is so baie dinge wat ek eerder sou wou prysgee, maar Hy vra vir my werk! Hard en duidelik, ‘n stem wat jy met niks anders kan verwar nie en wat jy met soveel ontsag aanhoor dat jy sukkel om asem te haal en die trane alreeds oor jou wang rol. Jou hele liggaam ruk terwyl die stem sê “ Jy moet nou, hier bedank”
‘n Miljoen vra gaan in ‘n milli-sekonde deur jou kop. Waar gaan ek heen ?Watter werk? Waar gaan ek bly? Hoe betaal ek? Dan besef jy dat dit ‘n opdrag is en dat God jou nie sal los nie! Dan met ‘n bewerige stemmetjie wat sekerlik nie baie oortuigend geklink het nie, bedank jy, want jy weet dat God met jou gepraat het!
Ek het 6 maande kennis gewerk, want ek wou! Ek het ‘n hele paar afskeidsfunksies bygewoon, en toe dit alles verby was, het ek na my vrou en kinders toe getrek.
In die laaste 18 maande het ek net 5 keer ‘n salaristjek kon huis toe bring, as mens dit ‘n tjek kan noem, en die res van die tyd was ek op my knieë voor God se voete. Hoe meer ek daaraan dink en die Woord lees vir bevestiging, hoe meer besef ek dat jy net eenkeer moet kies vir Jesus en dan staan jou naam geskrywe op Sy handpalm! Ek verkondig nie dat ons dan so onsedelik kan lewe as wat ons wil nie, maar dat Jesus gesterf het vir elkeen van ons se sonde en dat Hy nie een van ons wil sien verlore gaan nie! Vra jouself af of jy seker is dat indien jy nou sou doodgaan jy hemel toe sal gaan. As jy twyfel, onthou net : Jy kan sekerheid hê en Jesus wil hê dat jy sekerheid moet hê. Wanneer jy dink dat jou sonde te groot is om vergewe te word, toets jou hieraan: Dink aan jou sonde, hoe groot ook al, en dink dan daaraan dat ek dieselfde sonde gedoen het en vandag met oortuiging die evangelie van Jesus verkondig omdat Hy my sonde volkome vergewe het ! Al wat jy nodig het om te doen is om jou sonde voor God te bely, berou te hê, Sy genade te aanvaar en as verloste persoon te lewe. My lewe is aangrypend verander toe ek nie net vir Hom gekies het nie, maar ook gekies het om vir Hom te begin lewe. Ek is vandag dalk finansieël armer, maar ek het bygekry wat inderewigheid nooit by my of my gesin weggevat sal kan word nie! Prys die Here!
Ses maande nadat ek bedank het, het God een nag in ‘n droom met my gepraat en gevra dat ek die “Tempel” bou. Die vraag word nou gereeld gevra, Hoe weet jy dat dit God is wat vir jou gesê het om die “Tempel” te bou? Dit is ‘n baie goeie vraag, en een wat beantwoord moet word. Ek het lank gewonder oor hoe ek gaan verduidelik dat ek seker is dat die opdrag van God af kom. Ek het besluit om dit sò te doen……………….