Die doel met die reuse kompleks is om:
- Christus se kerk sigbaar te maak aan ‘n ongelowige wêreld
- Die boodskap van herlewing aan duisende op ‘n keer te bring.
- ‘n Bymekaarkomplek te skep waar duisende Sy Naam luid en helder kan eer en prys.
- Gewone mense toe te rus om mekaar te kan bedien.
- Gesinne weer by mekaar te kry soos wat dit God se bedoeling was, en om daadwerklik teen egskeiding te begin veg.
- ‘n Plek van gebed te wees wat 24uur per dag beskikbaar is vir persone of groepe.
- ‘n Plek te wees waar mense en groepe kan saamwerk om weduwees, wese, die wat arm is, die wat honger het, die wat verslaaf is, die prostituut op die straat se hoek, die dronkaard, die wat God nie ken nie, die wat God beter wil leer ken, te bedien.
Die tempel sal net ‘n gebou vir aanbidding wees en sal geen lidmate of ‘n raad hê nie, net ‘n bestuurspan wat alle geestelike aktiwiteite sal koördineer.
By God is alles moontlik.
Ek hoor gereeld dat dit onmoontlik is om te doen wat ons hier beplan. Dit lyk inderdaad soms soos ‘n ydele droom om te verwag dat ‘n miljoen mense so begeesterd sal raak dat hulle hul finansieël sal verbind tot so ‘n reuse onderneming. Maar dan onthou ‘n mens een baie belangrike feit: as God self hierdie opdrag gegee het, is dit Sy projek en niemand of niks sal in Sy pad kan staan om dit te verwesenlik nie. Wie, per slot van rekening, sou kon glo dat die ark waaraan Noag dekades lank gewerk het, nie net sou dryf nie, maar tot die oorlewing van die mensdom sou lei!Hoe moontlik sal dit wees om die tempel vir Christus te bou? So moontlik as wat dit is om te glo in Jesus en vir Hom op te staan!